Sukses met Vertikale Antenna Spoele.

Deur ZS1XB Emil Böhme

Het jy al ’n vertikale antenna probeer bou van jou eie ontwerp?

Onlangs het ek met verskeie moontlikhede begin speel om n vertikale spoel te bou vir my eksperimente in sogenaamde “stealth: antennas. My oorweging vir die ontwikkeling van ’n verkorte vertikale antenna is hoofsaaklik omdat ek soos baie ander n beperkte area het om antennas in te monteer. Boonop woon ek in ’n beperkte area wat deur ’n Huis Eienaars Vereniging beheer word, en kan mens net onopsigtelike antennas oprig wat die bure nie gaan pla of van die pad gesien kan word nie. Die DX Commander is n fantastiese opsie vir n vertikale antenna maar ongelukkig is die lengte te opsigtelik by my QTH. Miskien kan mens na die Lite weergawe kyk wat net 6,5m lank is en dan deur die spoel in ’n heelwat langer, elektries gesproke, antenna sal maak.

Daar is so baie opsies en verskillende maniere hoe dit aangepak kan word. Oorspronklik het ek my eie spoele op PVC pyp gebou en verskillende variasies gemaak soos op Foto 1 gesien kan word.  Hierdie eerste spoele het miskien nie mooi gelyk nie, maar die werking daarvan het my oortuig die idee is suiwer en die moeite werd om mee voort te gaan en te soek na ’n meer elegante oplossing.

\"\"

Die spoele kan die eerste deel vorm van die vertikale antenna, dus die onderste spoel is dan die eerste gedeelte van die totale lengte van die draad van die vertikaal. Dit kan ook in die middel van so n antenna gesit word, wat natuurlik deur baie amateurs gebruik word en dan ook as n “top loading coil” bekend staan, as n variasie op die tema.

Spoele is altyd ’n redelike swaar item en daar moet seker gemaak word dat dit deel vorm van ’n lekker stewige struktuur om nie oor te buig nie.

Onlangs het ek n ontwerp ingenieur raakgeloop wat vir sy skoonvader n plastiek spoel gebou het op n 3D drukker. Dit was dadelik duidelik vir my dat die ontwerp ideaal was vir my doel en nogal heel lig was in gewig. Ek het dadelik ’n bestelling ingesit vir die vormer en ’n voorbeeld bekom om in my tuin mee te eksperimenteer. Sien Foto 2 hieronder. 

Die eindproduk, ook bekend as ’n vormer, is beskikbaar in verskeie pragtige kleure wat onder andere swart, groen, rooi en selfs geel insluit. Die ontwerp self, sluit in n plek aan die onderkant waar n SO239 of alternatiewelik ’n BNC verbinding-prop gemonteer word met skroewe.

Die vormer is baie oulik ontwerp en het ook klaargemaakte groewe ingedraai om verskeie draad groottes van ongeveer 1.6mm to 2mm te neem as deel van die spoel se totale lengte draad. Dit kan ’n maksimum van 44 draaie neem wat jou ’n totale lengte van 8.5-meter se draad gee en teen ‘n kapasiteit van 44 mH. Die vormer kom met twee plastiek blokkies wat die spoel maklik aan n vertikale 5 – 6meter of langer visstok of veselglas paal kan heg met behulp van plastiek kabel ritse (Kable-ties). Sien die fotos vir meer duidelikheid.

Aanvanklik het ek aluminium draad gebruik wat ongelukkig baie styf is en n bietjie moeilik is om op die spoel maklik te wen.

Op die tweede spoel het ek emalje bedekte koperdraad gebruik wat heelwat makliker was om op te wen oor die spoel.

Laastens het ek by RS Electronics silwer bedekte koper draad gekry wat na my mening die mees ideaal was, want ’n mens kan maklik aan die windings pennetjies soldeer waaraan jou verstel draad kan klem.

Ek het onder in een van my gereedskap kassies die perfekte antwoord gekry in die vorm van ’n pragtige verstel klemmetjie. Dit was die ideale antwoord en word maklik met ’n skroefie vasgetrek op die plek waar mens resonansie vind. Sodoende kan jy ook maklik eksperimenteer en die klemmetjie op en af teen die spoel skuif om verskillende resultate teweeg te bring.

Sien gerus die Foto 3 met die klaar produk.

\"\"

Aan die bokant van die spoel moet mens ’n lengte koper draad aanheg as die vertikale gedeelte. Ek het n lengte van 10m koper draad van 1.5mm dikte gebruik om die antenna te toets. Deur eksperimentering kan verskillende lengtes gebruik word en ’n 20meter draad sal ook n goeie opsie wees vir laer bande en dalk as omgekeerde L gespan word op jou paal. Dit behoort goed te werk en sal jou op die laer bande direksionele uitsetting gee in die rigting weg van die omgekeerde L. Dus kom ons sê jy span jou draad op met die paal en dan van daar reguit uit in ’n Suidelike rigting, dan sal jou beste uitstraal rigting direk Noord wees. So ‘n antenna kan ook omnidireksionele patroon aanneem afhangende van die vertikale been.

My antenna was langs my skoorsteen gemonteer in n tuinbedding. Die spoel kan met plastiek kabel aan ’n hout pen vasgemaak word ten einde dit regop te hou. Daarna moet ’n hoeveelheid grondvlak drade of radiale gekoppel word.

Ek het toevallig reeds een lang 10m grond draad gehad wat in die grond ingebed was, wat ek toe gekoppel het aan die spoel. Ek beveel egter aan om ten minste 4 of meer radiale (grond drade) te gebruik as minimum maar selfs 16 sal baie goed werk op n grasperk. Korter radiale van 5.2m X 24 of 3.5m X 32 is ook n opsie. Jy kan dit op die gras los vir ’n rukkie en die gras behoort daaroor te groei en dan verdwyn dit uiteindelik heeltemal en kan jy daarna die gras sny sonder om te bekommer daaroor.

Jy kan die hele projek ook net hou vir ’n draagbare antenna vir veld dae of radio gerigte uitstappies. Vertikale antennas is bekend om oor die algemeen meer geneig te wees om hoë geraas vlakke te ontvang. Nietemin is dit n ideale antenna om saam te neem tydens n vakansie of reis vir vinnige ontplooiing en opslaan daarna. Vir permanente installasie sou ek definitief meer grond radiale gebruik wat ook weggesteek kan word vir vroulief soos hierbo verduidelik.

Tydens die eksperimentering het ek my MFJ 259 gebruik om die verstel-klemmetjie rond te skuif totdat die SWR so naby as 1:1 kon kom. Daarna het ek ’n lengte RG213 Coax kabel gekoppel en in die radio kamer my coax aan die instemmer gekoppel. 

Met verdere, geduldige, eksperimentering kon ek uiteindelik 40, 30, 20 en 17m instem met ’n aanvaarbare lae SWR.

Tydens my eksperiment het ek slegs 100W krag ingevoer in die stelsel en goeie resultate behaal. Die plastiek spoele is ontwerp om waarskynlik slegs 100W te hanteer. Sodra digitale modes gebruik word moet die krag beperk word tot 30W vir veiligheid. Dis moontlik dat dit dalk meer krag kan hanteer maar ek kan nie dit aanbeveel op grond van die huidige, beperkte, toetse wat ek kon doen nie.

Ten slotte kon ek op SSB en op CW n paar goeie kontakte maak om vir myself te bewys dat die antenna wel suksesvol gebruik kan word.

Die spoel self is die basis van die antenna en jou verbeelding kan jou lei om dit in baie verskillende maniere gebruik om ’n ongemaklike lang vertikale antenna korter te maak. Is dit tyd om iets nuut aan te pak teen min koste? Hier is ’n element waarmee mens kan begin en die gees van ontwikkeling wat in die are van ons amateurs klop, in te span!

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Translate »
Scroll to Top