Bulletin: 8 Februarie 2026
Bulletin: 8 Februarie 2026
Hierdie bulletin word elke Sondag uitgesaai op die 145.700 herhaler – hierdie week se samestelling is deur Johan ZS1JAB, gelees deur Rassie ZS1YT, met herleidings op 40m hierdie week deur Emile ZS1XB behartig, asook op die klub se Echolink nodus ZS0BAK.
In hierdie bulletin gesels ons oor:
- BARK klub- en ledenuus
- Wes-Kaapse herhalerwerkgroep-opdaterings
- SARL se weeklikse nuusbulletin in Afrikaans
- Ons maak ’n draai by die kompetisiedagboek
BARK KLUB- EN LEDENUUS
BARK-nuus
Baie dankie aan die stasies wat getrou die bulletin lees en herlei, en ook ná die bulletin inroep. Weet jy van iets interessant wat jy dink aanklank sal vind by die res van die klublede? Deel gerus daardie storie, stukkie inligting of ander interessanthede met ons.
Die Redaksiespan versoek enige nuus vir insluiting op die weeklikse bulletins. Nuus moet op die laatste Saterdagmiddag voor 14:00 ingestuur word na [email protected] — alle nuusbrokkies is welkom.
Vorige BARK bulletins, insluitend hierdie een, is nou op die nuwe bulletin aanlynargief beskikbaar, op die BARK webtuiste, sowel as die BARK Facebook-blad. Hierdie bulletin sal direk na die uitsaai van die bulletin beskikbaar wees. Besoek gerus die argief by bark.org.za/bulletins
Hou ook gerus die klub se webtuiste dop – ons is besig met opgraderings en opwindende veranderinge. Laat weet ons asseblief wat jy graag sal wil sien op die klub se webtuiste – ons is oop vir insette en vernuwing!
Lief en leed
Ons het verneem dat Marius ZS1ML onlangs in die withuis opgeneem is, in Durbanville, en is tans besig om aan te sterk. Marius het laat weet dat daar nog ‘n klein verkennings-prosedure voorlê, maar dat hy reeds beter voel – hy deel ook sy dank mee aan almal wat hom gekontak het. Ons hoop op ‘n vinnig herstel vir hom!
Elders in Suid-Afrika verneem ons met leedwese dat die sleutel van Jan Erasmus, ZS5G van Richardsbaai, op Donderdag 5 Februarie stilgeword het. Ons betuig ons opregte meegevoel aan sy vrou, sy dogter Elrina ZR4E, familie en vriende.
BARK-verjaarsdae
Vir die komende week het ons drie verjaarsdae. Op die 9de Februarie verjaar Trevor ZS1TR, en op die 11de deel Johan ZS1RX en Rassie ZS1YT die eer om die kersies uit te blaas.
Ons wens hulle ‘n baie gelukkige verjaarsdag en hoop dat hulle erg gaan bederf word op die dag. Mag dit ook vir jou n wonderlike jaar wees wat voorlê wat gevul sal wees met liefde, geluk en voorspoed.
BARK Digitaal WhatsApp-groep
BARK Digitaal is ’n inisiatief om digitale modusse te bevorder waar lede mekaar kan ondersteun in hierdie afdeling van die stokperdjie. Ons as BARK sien die behoefte in hierdie veld, asook die gebrek aan genoegsame ondersteuning — daarom hierdie inisiatief.
Lede word gevra om hul ervaring en eksperimente met digitale modusse soos DMR, Meshtastic, APRS, FT8, VARA, Winlink en nog vele meer, op die BARK Digitale WhatsApp-groep te deel.
BARK DMR-net
Donderdag, 5 Februarie, het die BARK DMR-net plaasgevind, en 8 stasies het deelgeneem, met ‘n Noord-Amerikaanse besoeker daarby ingesluit! Geselsgroep 6551 (Wes-Kaap) is gebruik, waar sommige lede ingeskakel het op die Noon Gun-herhaler en ander via ’n hotspot.
Nuttige kennis word uitgeruil oor operasionele toestande, weerstoestande en tegniese inligting. Maak ’n knoop in jou oor om saam met ons in te skakel volgende Donderdagaand om 19:30 SAST op talkgroup 6551 (Wes-Kaap). Verdere kennisgewing oor hierdie net sal per WhatsApp gedeel word. Kom sluit aan — dit is lekker en leersaam!
Op Vrydag, 6 Februarie, het Georg ZS1GFL met toetse dit suksesvol reggekry om op medium-krag die Noon-Gun DMR-herhaler te sneller vanuit Kommetjie sonder internet-herleiding. Die toetse was uitgevoer met die bystand van Jan ZS1LAM en Johan ZS1JAB om die kontak te bevestig. Jan ZS1LAM het daarby ook bepaal met kragtoetse dat hy met ‘n eksterne antenna op lae-krag vanuit Malmesbury die Noon-Gun DMR-herhaler kon sneller sonder sukkel. Hierdie is ‘n baie goeie bewys dat digitale-modusse goeie vooruitgang veroorsaak in radio-kommunikasie.
HAMNET-NUUS
Daar is steeds ‘n dringende versoek vir bystand met twee byeenkomste waarby HAMNET betrokke is.
14 Februarie: CPMCC/CCMCC Porterville-tydren (buite Porterville)
Die amateurradio-span het reeds net genoeg vrywilligers om as radiobeamptes op die baan te dien, en om die belangrikste resiesbeamptes te vergesel vir koördinering en kommunikasie. Ons kan egter doen met nog ’n paar hande, en die groep sal baat as ons ’n groter poel amateurs het om uit te trek by verdere tydrenne. Indien jy vrae het of wil help, kontak Johann Marais ZS1JM by 082 771 1880.
28 Februarie: Killarney Blinde Navigators-tydren (Killarney Resiesbaan en omliggende areas)
Hierdie geleentheid word deur die Seepunt Lions georganiseer en bied ’n besondere geleentheid vir blinde persone om die dag op die pad te geniet. Histories het radioamateurs slegs ’n paar kritieke kommunikasiefunksies verrig, maar ons wil graag die betrokkenheid uitbrei om meer effektief met koördinering te help. Daarom het ons meer amateurs nodig. Kontak Jannie Kirsten ZS1JFK by 084 225 1629
—
In hierdie week se HAMNET-verslag berig Dave Reece ZS1DFR dat Danie ZS1OSS en Michael ZS1MJT die Multi-Hazard Joint Operations Center (“JOC”)-vergadering Donderdag bygewoon het, wat deur die Wes-kaapse Provinsiale Rampbestuur byeengeroep is. Hierdie sessie volg ‘n nasionale aanwysing om multi-gevaar gesamentlike operasionele-sentrums reg-oor Suid-Afrika te aktiveer.
Gedurende die werksessie, is daar amptelike aankondigings gemaak dat ‘n Nasionale Ramptoestand verklaar is met betrekking tot waterskaarsheid in die Wes-, Oos- en Noord-kaap. Tans is HAMNET nog nie betrokke by hierdie situasie nie, en was hierdie werksessie doelgerig gewees om verskeie provinsiale departemente, waaronder die Stad-Kaapstad se Rampbestuur, Stad-Kaapstad en verskeie distriksmunisipaliteite byeen te roep om die stand van die situasie te bespreek.
Verder deel Dave meer gedetaileerde nuus oor die ramptoestand, die uitkoms van die 99’er Fietstoer wat gister plaasgevind het in Durbanville, en ook ‘n dieper insig oor die huidige aktiewe sonvlek genoemd “Aktiewe Area 4366”, wat verskeie M- en X-klas sonuitbarstings veroorsaak het – hierdie en meer interessante brokkies nuus, in die weeklikse HAMNET-bulletin, elke Woensdag-aand om 19:30 op die 145.700 herhaler, met verskeie herleidings op HF, BHF en Echolink.
KLUBNUUS
RAE-seisoen skop af
Jannie ZS1JFK berig dat die RAE Klas-A kursus vir 2026 op Maandag, 9 Februarie begin. Indien jy nog wil aansluit vir die kursus, maak asseblief kontak met Jannie. Vir meer inligting oor die kursus, RAE-registrasieproses, studiemateriaal en die skedule, besoek gerus bark.org.za/kursus-rae – volledige inligting is daar beskikbaar.
Tuin-Roete Hub-Netwerk Publiseer Antenna-bou handleidings
Die Tuin-Roete Hub-Netwerk het in die laaste twee weke redelike fokus geplaas op die publisering van handleidings vir die bou van verskillende tipe antennas, sowel as die nuutste inskrywing op hul Blogspot-tuiste vir ‘n 5-Volt kragverspreidingsbord vir Raspberry Pi projekte. Hierdie projekte sal veral aanklank vind by ons mede-amateure vir idees om nuwe nuts-projekte aan te pak om die radio-hok nét daai ietsie ekstra te gee.
Besoek gerus die webblad by grhubnetwork.blogspot.com vir meer inligting.
WES-KAAP HERHALER NUUS
Dit is aangenaam om aan te kondig dat die Wes-Kaap herhalerstelsel van Kaapstad tot George weer in werking is. Die stelsel dek groot dele van die Kaapse Skiereiland, Boland, Overberg en Suid-Kaap. Dit word moontlik gemaak deur die gebruik van vyf herhalers en verskeie skakel-radio’s. Laat nuus: Ongelukkig is daar kragprobleme by Riversdal wat veroorsaak dat die netwerk tydelik nie 100% bruikbaar is nie.
Die skakelradios tussen Hansekop en Onrusberg, Haweques na Hansekop, en Hawequas na Piketberg is tans onklaar, en die nodige aandag sal gegee word hieraan om die skakels te herstel. Ons het ook onbevestigde verslae ontvang dat daar moontlike weerligskade kan wees aan die Jonaskop-herhaler, en toetsverslae word versoek – rapporteer dit asseblief indien foute opgemerk word.
Jy word uitgenooi om die herhalers te benut wanneer jy kans het – die herhalers is vir alle amateure beskikbaar om gebruik te word. Twee kontantdonasies is in die Januarie-tydperk ontvang. Die herhalergroep bedank graag die persone wat bydraes en kontantdonasies lewer.
Om foute te rapporteer, en om meer inligting te bekom oor die herhalernetwerk, besoek gerus wcrwg.co.za.
NUUS UIT DIE SARL SE WEEKLIKSE NUUSBRIEF
DIE 2026 SARL NASIONALE KONVENSIE
Dankie aan almal wat ‘n mede-radioamateur vir ‘n toekenning of trofee genomineer het. Die name van die verskillende ontvangers sal bekend gemaak word tydens die Toekenningsdinee op 2 Mei. Ontvangers sal ‘n brief van die SARL-sekretaris ontvang wat hulle inlig oor die toekennings en trofeë.
Die Registrasievorm vir die Nasionale Konvensie is beskikbaar by mysarl.org.za/sarl-agm-2026, klik op die skakel en vul jou besonderhede in. Jy sal die kostes vir die Vrydagaand-byeenkoms en die Toekenningsdinee op die vorm sien, Vrydagaand is R150 per persoon en Saterdagaand is R250 per persoon, betaal die bedrag in die SARL-bankrekening en laai ‘n afskrif van die PoP op die registrasievorm op.
Die 2026 SARL Nasionale Konvensieboekie en die elektroniese volmagvorm sal beskikbaar gestel word op Donderdag 2 April 2026.
Daar is verskeie verblyf opsies om van te kies – chalets, kothuise; rondawels; bungalows en karavaan en kampeerplek. Besoek die webwerf by thewillowspe.co.za vir al die inligting. Die Nasionale Konvensie vind oor ‘n langnaweek plaas, so bespreek vroegtydig. Jy kan ook by Pine Lodge bespreek, ongeveer 9 km vanaf The Willows – hulle webwerf is pinelodge.co.za. Of maak gebruik van een van die vele verblyf webblaaie.
DEEL JOU TEGNIESE INSIGTE OOR JOU VELDDAG OPSTELLINGS
Die eerste deel van die SARL Nasionale Velddag vind plaas oor die naweek van 14 en 15 Maart by ‘n kampeerterrein in jou omgewing. Jy het net meer as ‘n maand om jou beplanning te doen.
Op bladsy 15 van die Desember 2025 Radio ZS en op bladsy 10 van die Februarie 2026 Radio ZS is ‘n oproep om jou tegniese insigte oor jou Velddag opstellings te deel. Ons soek tegniese oplossings vir Velddag bedrywighede — krag, antennas, logging, modusse, ens. Die integrasie van nuwe tegnologieë (bv. SDR, mesh netwerke, sonkrag) in veld scenario’s.
Voorbeelde van hoe die gewildheid van Parke op die Lug (POTA) en Pieke op die Lug (SOTA) draagbare aktiverings jou benadering tot die opstel van Velddag stasies verander het. Voorbeelde van hoe draagbare antennas en LiFePO4-batterye basisstasie-antennas en kragopwekkers vervang het. Jou artikel moet ‘n sterk “hoe-om”-komponent hê. Vertel ons wat jy gedoen het, maar nog belangriker, vertel ons hoe jy dit gedoen het. Stuur jou artikel na [email protected].
KOMPETISIENUUS
HAMSAT QO-100 Kompetisie
Vandag, Sondag 8 Februarie vind die jaarlikse HamSat QO-100-kompetisie plaas. Hierdie opwindende en prettige aktiwiteit het ten doel om kontak tussen radio amateurs van Suid-Afrika amateurs en die res van die wêreld te bevorder deur die QO-100-satelliet te gebruik. Die doelwit vir ZS-stasies is om met soveel verskillende lande as moontlik kontak te maak. As jy nie vanjaar ’n QO-100-opstelling het nie, kan jy dalk ’n besoek aan ’n vriend met ’n stasie beplan vir die Sondag — en begin om jou eie te bou vir die volgende keer. Sterkte en mag jou LNB stabiel wees! Al die kompetisie besonderhede kan gevind word op Bladsy 67 van die 2026 Kompetisiehandleiding
Die 2026 SARL Saterdag 40 m Klub kompetisie
Die Wes-Rand Amateurradioklub haal sy hoed af vir die Noord-Kaap ARK vir hulle prestasie in die eerste been van die 40-meter Klub kompetisie, wat hulle bo-aan die punte leër geplaas het. Terselfdertyd, welgedaan aan die Magaliesberg Klub verskuldig vir hulle vertoning in die derde plek.
Soos die spreekwoord sê, “Rome is nie in een dag gebou nie”, en hierdie kompetisie reeks het nog ‘n hele paar bene wat voorlê. Volgende op die kalender is die 80-meter Klub kompetisie op Woensdag 18 Februarie. Dit is die ideale geleentheid om jou lede op die lug en geïnspireerd te kry. Gebruik jou volgende klub Opedag om ‘n ondersteuningsgroep te begin om te help met logboeke, die eienskappe van ‘n goeie antenna te verduidelik en die dinamika van voortplanting te bespreek. Dit is jou kans om jou klub se vlag hoog te hou en die punte in te samel
Uitslae van die Antieke Draadloos Vereniging Gelykgolf Aktiwiteitsdag
Daar was tien stasies aktief op gelykgolf, nege van hulle op 40 m en een op 20 m
- 1ste Ian, ZS6AIA – 6 punte
- 2de Eddie, ZS6BNE; Mickey, ZS5QB en Mike, ZS6MSW – 5 punte
- 3de Arthur, ZS5DUV – 2 punte
- Die ADV stasie het 9 punte behaal
Uitslae van 2025 SARL Sonstilstand 6 m Afrika DX Uitdaging
Ongelukkig het ‘n log uitgeval met die vorige verslag wat op 29 Desember gestuur is. Vyf logstate is ontvang vir die uitdaging. Die korrekte uitslae is soos volg:
- 1ste Paul, ZS6NK – 288 punte en 60 unieke entiteite gewerk
- 2de Jack, ZS6JJK – 123 punte en 32 unieke entiteite gewerk
- 3de Karel, ZS6WN – 115 punte en 30 unieke entiteite gewerk
- 4de Pieter, V51PJ – 77 punte en 20 unieke entiteite gewerk
- 5de Johann, ZS6JBZ – 76 punte en 20 unieke entiteite gewerk
HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING
Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat gematigde tot hoë sonaktiwiteitsvlakke vir die week verwag word. Tans is daar 9 sonvlekgroepe met eenvoudige tot gevorderde magnetiese samestellings sigbaar. Daar is ‘n hoe” waarskynlikheid vir die voorkoms van C- en M-klas sonfakkels, en ‘n lae waarskynlikheid vir X-klas sonfakkels.
Diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, kan ‘n verwagte effektiewe sonvlektelling van 81 vir die week gebruik. Radio amateurs kan soggens en laat middag goeie DX openinge op die 10 tot 30 m bande verwag. Besoek gerus die webtuiste spaceweather.sansa.org.za vir meer inligting.
DAGBOEK VAN GEBEURE (VOLGENDE PAAR WEKE)
- Vandag – die HamSat SA ZS-QO-100 QSO Partytjie
- 12 Februarie – Wêreld Radio-dag
- 14 en 15 Februarie – die CQ WW WPX RTD Kompetisie
- 16 Februarie – die Mei RAE-Registrasie open
- 17 Februarie – Gedeeltelike Sonsverduistering
- 18 Februarie – die SARL Woensdag 80 m-Klubkompetisie
- 21 en 22 Februarie – die ARRL Internationale DX GG-kompetisie
NOG AMATEURRADIO NUUS
Luister elke Sondag oggend om 10:00 Sentraal Afrika Tyd na “Amateur Radio Today.” Daar is herleiding op 7 115 kHz laer syband deur Louie, ZR4DJL, en verskeie herleidings op BHF en UHF frekwensies regoor Suid Afrika. In Kaapstad kan jy om 10:30 SAT luister op die 145,700 MHz-herhaler met Echolink na ZS1DCC-R, danksy Dave, ZS1DFR.’n Heruitsending aangebied deur Andy, ZS6ADY vind op Maandae aande om 19:30 Sentraal Afrika Tyd op 3 620 kHz plaas.
Ons ontvang graag jou sein rapporte, kommentaar en voorstelle, stuur ‘n e-pos aan [email protected].
OM MEE AF TE SLUIT
Onthou om vandag deel te neem aan die HamSat SA ZS-QO-100 Partytjie.
Roep asseblief in op die frekwensie waar jy geluister het. Ons gee nou eers ‘n redelike kans vir EchoLink stasies om in te roep, en vra dat ander stasies net ‘n oomblik geduld toepas voor hul inroepe. Ons nooi jou ook uit om interessanthede te deel na die bulletin, en om terugvoering te gee rakende die bulletin se formaat en idees.
Dankie aan die herlei-stasie op 40 meter band elke Sondag wat help met die verspreiding van die BARK bulletin.
Namens die redaksie-span, groete tot ‘n volgende keer, en ‘n lieflike week.
-73.
