Bulletin: 1 Februarie 2026

Die BARK-bulletin word elke Sondag uitgesaai op die 145.700 herhaler. Hierdie week is dit saamgestel en gelees deur James ZS1JWM, en dit is ook beskikbaar op die klub se Echolink-nodus ZS0BAK-R.

Die 40 m herleiding word hierdie week deur Schalk ZR1SWB op 7,092 kHz behartig. Die herleiding na die skakelstelsel wat die Suid-Kaap bedien, word voorlopig deur Rassie Erasmus ZS1YT behartig, totdat ons die stelsel kan outomatiseer sodat dit die bulletin wat op die 145.700 herhaler in Kaapstad uitgesaai word, self kan opvang en versprei.

In hierdie bulletin gesels ons oor:

  • BARK klub- en ledenuus
  • Wes-Kaapse herhalerwerkgroep-opdaterings
  • SARL se weeklikse nuusbulletin in Afrikaans
  • Ons maak ’n draai by die kompetisiedagboek

BARK KLUB- EN LEDENUUS
Lief en leed
Dit spyt my om aan te meld dat Gerick Vercuiel ZS1DG se sleutel vreedsaam stil geraak het op Woensdag 28 Februarie. Sy gedenk diens vind om 10:30 by die NG Kerk Piketberg op Maandag 2 Februarie plaas. Ons dink aan tannie Petro en sy geliefdes en wens hulle sterkte toe in die moeilike tyd.

BARK-verjaarsdae
Die komende week verjaar die volgende BARK lede.

  • 3 Februarie – Theo ZS1BO
  • 4 Februarie – Tinus ZR1TP
  • 4 Februarie – James ZS1XN
  • 6 Februarie – Leanda (LV) ZSL8376
  • 7 Februarie – Jannie ZS1JFK
  • 7 Februarie – Lynette (LV) ZS1LA

Ons wens hulle ‘n baie gelukkige verjaarsdag toe en hoop dat hulle erg gaan bederf word op die dag. Mag dit ook vir julle `n wonderlike jaar wees wat voorlê wat gevul sal wees met liefde, geluk en voorspoed.

BARK-nuus
Baie dankie aan die stasies wat getrou die bulletin lees en herlei, en ook ná die bulletin inroep. Weet jy van iets interessant wat jy dink aanklank sal vind by die res van die klublede? Deel gerus daardie storie, stukkie inligting of ander interessanthede met ons.

Die Redaksiespan versoek enige nuus vir insluiting op die weeklikse bulletins. Nuus moet op die laatste Saterdagmiddag voor 14:00 ingestuur word na [email protected] — alle nuusbrokkies is welkom.

Vorige BARK-bulletins, insluitend hierdie een, is op die BARK Facebook-blad te vind. Hierdie bulletin sal direk ná die uitsending beskikbaar wees.

BARK Digitaal WhatsApp-groep
BARK Digitaal is ’n inisiatief om digitale modusse te bevorder waar lede mekaar kan ondersteun in hierdie afdeling van die stokperdjie. Ons as BARK sien die behoefte in hierdie veld, asook die gebrek aan genoegsame ondersteuning — daarom hierdie inisiatief.

Lede word gevra om hul ervaring en eksperimente met digitale modusse soos DMR, Meshtastic, APRS, FT8, VARA, Winlink en nog vele meer, op die BARK Digitale WhatsApp-groep te deel.

BARK DMR-net
Donderdag, 29 Januarie, het die BARK DMR-net plaasgevind, en 8 stasies het deelgeneem, een selfs van die VSA af! Talkgroup 6551 (Wes-Kaap) is gebruik, waar sommige lede ingeskakel het op die Noon Gun-herhaler en ander via ’n hotspot.

Nuttige kennis word uitgeruil oor operasionele toestande, weerstoestande en tegniese inligting. Maak ’n knoop in jou oor om saam met ons in te skakel volgende Donderdagaand om 19:30 SAST op talkgroup 6551 (Wes-Kaap). Verdere kennisgewing oor hierdie net sal per WhatsApp gedeel word. Kom sluit aan — dit is lekker en leersaam!

Hulp benodig
HAMNET Wes-Kaap benodig amateurvrywilligers om te help by die volgende drie geleenthede:

  • 7 Februarie: 99er Fietstoer (Durbanville–Malmesbury)
    Daar is reeds heelwat radioamateurs wat hul tyd en kennis beskikbaar gestel het, maar ons benodig steeds ’n paar ekstra persone. Indien jy enige vrae het of belangstel om jou beskikbaar te stel, kontak gerus vir Dave Reece ZS1DFR by 083 270 6843.
  • 14 Februarie: CPMCC/CCMCC Porterville-tydren (buite Porterville)
    Die amateurradio-span het reeds net genoeg vrywilligers om as radiobeamptes op die baan te dien, en om die belangrikste resiesbeamptes te vergesel vir koördinering en kommunikasie. Ons kan egter doen met nog ’n paar hande, en die groep sal baat as ons ’n groter poel amateurs het om uit te trek by verdere tydrenne. Indien jy vrae het of wil help, kontak Johann Marais ZS1JM by 082 771 1880.
  • 28 Februarie: Killarney Blinde Navigators-tydren (Killarney Resiesbaan en omliggende areas)
    Hierdie geleentheid word deur die Seepunt Lions georganiseer en bied ’n besondere geleentheid vir blinde persone om die dag op die pad te geniet. Histories het radioamateurs slegs ’n paar kritieke kommunikasiefunksies verrig, maar ons wil graag die betrokkenheid uitbrei om meer effektief met koördinering te help. Daarom het ons meer amateurs nodig. Kontak Jannie Kirsten ZS1JFK by 084 225 1629

HAMNET-NUUS
Ons hoor van Dave Reece, ZS1DFR, dat daar tans relatief min nuus is in HAMNET-bulletins oor amateurradio-noodkommunikasie in Suid-Afrika. Volgens Dave is dit omdat daar min kommunikasie-verwante berigte is oor rampe of groot geleenthede in ons land. Hy sê hy deursoek weekliks nuusbronne, en vul daarom die bulletin soms aan met wetenskap- en ruimteberigte—totdat meer HAMNET-verslae uit afdelings inkom.

Dave Reece sê ons hoor verder van Riaan Greeff, ZS4PR, HAMNET Afdelingsdirekteur in die Vrystaat, wat ’n sterk oproep doen dat radioamateurs beter plaaslik moet skakel en gereed moet wees vir noodgevalle. Riaan nooi SARL-lede en nuwe amateurs om met hom kontak te maak. Hy sê 2026 gaan fokus op opleiding, radiogereedheid en beter integrasie met ander HAMNET-groepe. Tans is daar net oor die 20 aktiewe HAMNET-lede in die Vrystaat, met die meerderheid in die Vaalstreek. Hy wys ook daarop dat baie amateurs wel by ander veiligheids- en beskermingsgroepe betrokke is, maar nie by HAMNET nie.

Dave Reece sê ons hoor ook van Andrew Gray, ZS2G, HAMNET Afdelingsdirekteur in die Oos-Kaap, oor ’n groot kragonderbreking in die Nelson Mandelabaai-gebied wat moontlik tot twee weke kan duur. Twee torings in die Bethelsdorp–Greenbushes 132 kV kraglyn het geval—blykbaar weens vandalisme saam met swak weer. Andrew waarsku dat waterpompstasies sonder krag ook kan uitval, en dat ’n lang onderbreking die gemeenskap, sowel as handel en nywerheid, ernstig kan raak.

HERHALERNUUS
Dit is aangenaam om aan te kondig dat die Wes-Kaap herhalerstelsel van Kaapstad tot George weer in werking is. Die stelsel dek groot dele van die Kaapse Skiereiland, Boland, Overberg en Suid-Kaap. Dit word moontlik gemaak deur die gebruik van vyf herhalers en verskeie skakel-radio’s.

Die Wes-Kaap Herhalerwerkgroep wil graag spesiale dank betuig aan Michael ZS1MJT, Neville ZS1NEV en Jimmy ZS1RB, wat die nodige herstelwerk en installasies op die herhalerterreine gedurende die vakansietydperk gedoen het.

Jy word uitgenooi om die herhalers te benut wanneer jy kans het — die herhalers is vir alle amateurs beskikbaar.

Om foute te rapporteer en meer inligting te bekom oor die herhalernetwerk, besoek gerus: wcrwg.co.za

NUUS UIT DIE SARL SE WEEKLIKSE NUUSBRIEF
AWA GG KOMPETISIE VANDAG
Die Antieke Draadloos Vereniging se GG Aktiwiteitsdag, vandag, Sondag 1 Februarie — is jy reg om die propagasie te ry met die sleutel in die hand om daardie Morse kode kontakte te maak? Die doel van die GG Aktiwiteitsdag is om met soveel moontlik amateurs op die 20, 40, en 80 m-bande kontak te maak. Raadpleeg bladsy 65 van die 2026 Kompetisiehandleiding vir al die besonderhede.

DIE FEBRUARIE 2026 RADIO ZS
Die Redakteur het die Februarie 2026-uitgawe van Radio ZS op Vrydag 30 Januarie op die mysarl-webwerf opgelaai. Ons vra of jou Klub ‘n aktiewe Klub is, waar die jongmense is en ons kyk na Klub leierskap. Derek, ZS5Y sê jy moet nie die toerkuns bo HF misloop nie en Johan, ZS6JPL verduidelik hoe om ‘n herhaler te gebruik. Ons delf in die EFHW 80 – 10 Mite, die Groot Dubbele Bazooka Antenna debat, die Helium Ballon Deflasie Misterie en Spektrum analiseerders.

Daar is ‘n inleiding tot THz (Optiese) kommunikasie, ‘n kykie na ‘n kort geskiedenis van Spioenasie Radios in die Tweede Wêreld oorlog en die Q-kodes. John, VA3KOT vra, “Dit is steeds ‘n stokperdjie, nè?” en bespreek wat werklik die doeltreffendheid van ‘n antenna bepaal? Kry jou slingervel of kettie gereed om antennas vir HF te ontplooi en meer in hierdie 96-bladsy uitgawe.

DIE 2026 SARL NASIONALE KONVENSIE
Die 2026 SARL Nasionale Konvensie sal gehou word by die Willows Oord en Konferensiesentrum net suid van Port Elizabeth oor die naweek van 1 tot 3 Mei 2026. Die Port Elizabeth Amateurradiovereniging (PEARS) is ons gasheer vir die geleentheid.

PEARS het ‘n ken-mekaar vir Vrydagaand (1 Mei) by die Lapa by die Willows beplan. Die algemene jaarvergadering sal plaasvind op Saterdagoggend 2 Mei in die Konferensie-sentrum by die Willows en die Toekenningsdinee sal Saterdagaand in dieselfde lokaal gehou word. Daar is ‘n vennoot program en natuurlik is die JDs, SOTA, POTA, HOTA, IOTA, GGers, BHFers, ens., welkom om ‘n byeenkoms te reël om te gesels, idees en QSL-kaarte uit te ruil en net hulself te geniet.

Daar is verskeie verblyf opsies om van te kies – chalets, kothuise; rondawels; bungalows en karavaan en kampering. Besoek die webwerf by https://thewillowspe.co.za vir al die inligting. Die Nasionale Konvensie vind plaas oor ‘n langnaweek, so bespreek vroegtydig. Jy kan ook bespreek by Pine Lodge https://pinelodge.co.za sowat 9 km vanaf The Willows.

PICO-BALLON NUUS
Hier is ’n kort opdatering oor Suid-Afrika se drie Pico-ballonne, wat almal tans in die Stille Oseaan-streek vlieg:

  • ZS1AFB-1, gelanseer op 5 Januarie, is naby die voltooiing van sy eerste omseiling van die aardbol. Dit is tans oor Suid-Amerika, nadat dit ongeveer 40 000 km in 17 dae afgelê het, en vlieg tans op ongeveer 12,32 km hoogte met ’n grondspoed van sowat 105 km/h.
  • ZS6SRC-32 het, ná 25 dae in vlug, ongeveer 55 000 km afgelê en is nou in sy tweede rondte om die wêreld, op ongeveer 12,34 km hoogte met ’n grondspoed van ongeveer 110 km/h.
  • ZS1ERZ-12 is tans in sy 13de omseiling van die planeet. Oor 160 dae het dit ongeveer 407 000 km afgelê en is steeds in vlug.

KLUBNUUS
Die Kaapstad Amateurradiosentrum bied hul jaarlikse vlooimark ’n week vroeër aan, op 28 Februarie 2026, by die Belvedere Gemeenskapsentrum langs Laidlawlaan in Rondebosch. Die hekke maak om 10:30 oop.

Verkopers betaal slegs R15, wat ’n inskrywing in ’n gelukkige trekking insluit. Boerie-rolletjies en yskoue verversings sal te koop wees. Almal is welkom — dit is ’n uitstekende geleentheid om met ou vriende by te praat. Sien jou daar.

Vir meer inligting: [email protected]

KOMPETISIENUUS
Die eerste been van die 2026 QRP-kompetisie reeks, die SARL Somer QRP-kompetisie wat op Saterdag 17 Januarie gehou is, is amptelik verby en wat ‘n avontuur was dit nie. Vir twee uur het operateurs regoor die land die luggolwe geneem vir ‘n vinnige sessie van eksperimentering, vaardigheid en pure QRP-pret – en julle was briljant.

Uit die 26 logboeke wat ingedien is, het ons ‘n paar indrukwekkende statistieke getrek, oor die kompetisie venster is 357 QSOs aangeteken. Dieter, ZS1DWH, het QRP-krag tot sy uiterste gestoot met ‘n merkwaardige kontak van 1 479 kilometer – die langste van die been. En Wayne, ZS6ORB, het die aktiwiteit lyste met 27 QSOs gevoer, die hoogste telling van die dag. Nou, stel daardie wysers in en luister aandagtig … want hier kom die uitslae. In die derde plek algeheel, met 79 punte, is Wayne, ZS6ORB. In die tweede plek, net een punt voor op 80, is Keith, ZS6HI en hy neem die boonste plek in — jou QRP eerste been PRO Kampioen met 86 punte is Brandon ZS6LZ! Brandon eis ook die titel van QRP eerste been Foon modus PRO. Wel gedaan!

PICO BALLON NUUS
‘n Kort opdatering oor Suid-Afrika se Pico Ballonne soos op Vrydag, 30 Januarie 2026 ZS1AFB-1 is nou in sy tweede rondte om die wêreld en tans halfpad in die Indiese Oseaan op pad na Australië. Statistiek: hoogte 12,6 km, -28 C, 24 dae, 54 000 km en grond spoed van 44 km/h.

ZS6SRC-32, na 58 398 km en 1,5 rondtes om die wêreld, blyk MIA te wees. Daar was geen RX van hierdie vrag vir meer as 5 dae nie. Gert, ZS6GC sê ZS6SRC-34 is gereed vir lansering, wag net vir helder weer.

ZS1ERZ-12 is tans in sy 13de omseiling van die planeet en behoort Afrika teen Sondag te bereik. Statistiek: hoogte 13,4 km, -20 C, 166 dae, 420 000 km, en grond spoed van 120 km/h.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat daar gedurende die week lae sonaktiwiteitsvlak verwag word. Tans is daar 7 sonvlek groepe met eenvoudige magnetiese samestellings sigbaar. Daar is ‘n hoë waarskynlikheid vir die voorkoms van C-klas en ‘n geringe waarskynlikheid vir M-kas

sonfakkels. Diegene wat hulle eie frekwensie voorspellings wil doen, kan ‘n verwagte effektiewe sonvlektelling van 76 vir die week gebruik. Radio amateurs kan goeie DX openinge op die 30 tot 10 m bande verwag. Besoek gerus die webtuiste spaceweather.sansa.org.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE (VOLGENDE PAAR WEKE)

  • Vandag – die Antieke Draadloos Vereniging GG Aktiwiteitsdag
  • 7 Februarie – die East Rand Snuffelmark en SARL Hamnet Wes-Kaap ondersteun die 99er Fietstoer in Durbanville
  • 8 Februarie – die Hamsat SA ZS-QO-100 QSO Partytjie
  • 11 Februarie – Internasionale Dag van Vroue en Meisies in Wetenskap
  • 13 Februarie – Wêreld Radio Dag
  • 14 Februarie – Valentynsdag
  • 14 en 15 Februarie – die CQ WW WPX RTD kompetisie en die Sasolburg ARK ondersteun die Ride for Sight-fietswedren
  • 16 Februarie – Die Mei RAE-registrasie open
  • 17 Februarie – Gedeeltelike Sonsverduistering
  • 18 Februarie – Begin van Ramadan (voorlopige datum) en die SARL Woensdag 80 m Klub

NOG `N STUKKIE BARK-NUUS EN INLIGTING
Die Voorsitter, Johan Brink ZS1JAB, het verduidelik dat die week se bulletin voortaan op die BARK-webblad gelaai sal word terwyl die webwerf opgedateer word. Die adres is: https://bark.org.za/bulletins

Datums vir BARK-klubvergaderings 2026
Die datums vir klubvergaderings is vasgemaak vir die jaar, as volg:

  • 14 Maart 2026
  • 20 Junie 2026
  • 19 September 2026
  • 5 Desember 2026

Die venues word tans uitgesorteer. Ons besin ook oor uitreik-velddae en ’n wegbreeknaweek — datums en gepaste venues sal later gesirkuleer word.  By die 14 Maart-geleentheid beoog ons om ’n veldstasie op te rig vir die klubkompetisie. Afhangend van die venue, mag ons dit selfs ’n deurnag maak vir dié wat wil, maar dit is nog in die beplanningsfase.

OM MEE AF TE SLUIT
Dankie aan almal wat ingeluister het saam met ons vanoggend, dit was lekker om julle vanoggend hier by ons te verwelkom.

Die volgende stap is om jou te vra om in te roep op die frekwensie waar jy geluister het. Ons nooi jou uit om interessanthede te deel ná die bulletin, en om terugvoering te gee oor die bulletin se formaat en idees.

Nou gee ons eers ’n redelike kans vir Echolink-stasies om in te roep, en vra dat ander stasies net bystaan tot ons die volgende groep met handradios en basis-stasies vra dat julle ook inroep.

Namens die hele redaksiespan wat agter die skerms woelig is om vir jou nuusgebeure te bring — groete tot volgende keer, en ’n heerlike week vir jou.

73.

Translate »
Scroll to Top