Bulletin: 18 Januarie 2026
Die BARK bulletin word elke Sondag uitgesaai op die 145.700 herhaler – hierdie week saamgestel en gelees deur Jannie ZS1JFK en is ook beskikbaar op die klub se Echolink nodus ZS0BAK-R. Die 40m herleiding word hierdie week deur Schalk ZR1SWB behartig.
In hierdie bulletin gesels ons oor:
- BARK klub- en ledenuus
- Wes-Kaapse herhaler werkgroep opdaterings
- SARL se weeklikse nuusbulletin in Afrikaans
- Ons maak ‘n draai by die kompetisiedagboek
BARK KLUB- EN LEDENUUS
Lief en leed
Geen lief- of leednuus is die afgelope tydperk vanaf enige lede ontvang nie.
BARK verjaarsdae
Die komende week verjaar die volgende vyf BARK lede:
- 18 Januarie: Brandon ZS1BX
- 19 Januarie: Gerhard ZS1TG
- 20 Januarie: Riaan ZS1RVN en Hentie ZS1LH
- 23 Januarie: Adrie, LV van Dirk ZS1X
Baie geluk met julle verjaarsdae en ons hoop om julle by ons jaareindfunksie te sien om dit sommer saam te vier.
BARK-nuus
Baie dankie aan die stasies wat getrou die bulletin lees en herlei, en ook inroep na die bulletin. Weet jy van iets interessant wat jy dink aanklank sal vind by die res van die Klublede? Deel gerus daardie storie, stukkie inligting of ander interessanthede met ons! Die Redaksiespan versoek enige nuus vir insluiting op die weeklikse bulletins. Die nuus moet op die laatste Saterdag-middae voor 14:00 ingestuur word na [email protected] – alle nuusbrokkies word verwelkom!
Vorige BARK bulletins, insluitend hierdie een, is op die BARK Facebook-blad te vind. Hierdie bulletin sal direk na die uitsaai van die bulletin beskikbaar wees.
BARK Digitaal WhatsApp groep
BARK Digitaal is ‘n inisiatief om digitale modusse te bevorder waar lede mekaar kan ondersteun in hierdie afdeling van die stokperdjie. Ons as BARK sien die behoefte in hierdie veld asook die gebrek aan genoegsame ondersteuning, aldus hierdie inisiatief. Lede word gevra om hulle ervaring en eksperimente met digitale modusse soos DMR, Meshtastic, APRS, FT8, VARA, Winlink en nog vele meer, op die Bark Digitaal WhatsApp groep te deel.
BARK DMR-net
Donderdag, 15 Januarie merk die eerste BARK DMR NET en 10 stasies het deelgeneem. Talk Group 6551 (Wes-Kaap) is ingespan waar sommige lede ingeskakel het op die Noon Gun herhaler en sommige d.m.v. ‘n hotspot. Nietemin is nuttige kennis en operasionele toestande, weerstoestande en ander tegniese inligting uitgeruil. Maak ‘n knoop in jou oor om saam met ons in te skakel volgende Donderdagaand om 19:30 SAST op Talk Group 6551 (Wes-Kaap). Verdere kennisgewing i.v.m. hierdie net sal per WhatsApp gedeel word. Kom sluit aan by ons. Dit is hope pret!
HAMNET hulp benodig
Hamnet Wes-Kaap benodig amateur vrywilligers om te help by die volgende drie geleenthede:
7 Februarie: 99er Fietstoer wat in die area tussen Durbanville en Malmesbury geskied. Daar is reeds heelwat radio amateurs wat by hierdie geleentheid hulle tyd en kennis beskikbaar gestel het, maar ons benodig steeds ‘n paar ekstra persone. Indien jy enige vrae het of belangstel om jouself beskikbaar te stel om op die dag te help, kontak gerus vir Dave Reece ZS1DFR by 083 270 6843.
14 Februarie: CPMCC/CCMCC Porterville Tydren wat net buite die dorp van Porterville plaasvind. Die amateur radio span het reeds net-net genoeg vrywilligers om as radiobeamptes op die baan te dien, en om die belangrikste resiesbeamptes te vergesel om te help met koordinering en kommunikasie by die geleentheid. Ons kan egter doen met nog so paar hande om te help, en die groep sal daarby baat as ons ‘n groter poel van amateurs het om van te trek by verdere tydrenne. Indien jy enige vrae het of belangstel om jouself beskikbaar te stel om op die dag te help, kontak gerus vir Johann Marais ZS1JM by 082 771 1880.
28 Februarie: Killarney Blinde Navigators Tydren wat op Killarney Resiesbaan en die omgliggende areas plaasvind. Hierdie geleentheid word deur die Seepunt Lions georganiseer en bied ‘n wonderlike geleentheid vir blinde persone om die dag op die pad te geniet. Geskiedkundig het die radio amateurs wat by hierdie geleentheid uitgehelp het slegs ‘n paar kritiese kommunikasie funksies verrig, maar ons sal graag hierdie betrokkenheid effens wil uitbrei sodat ons meer effektief met koordinering kan bystaan, en sal dus meer amateurs benodig om met hierdie geleentheid uit te help. Indien jy enige vrae het of belangstel om jouself beskikbaar te stel om op die dag te help, kontak gerus vir Jannie Kirsten ZS1JFK by 084 225 1629
WES-KAAP HERHALER NUUS
Dit is aangenaam om aan te kondig dat die Wes-Kaap herhalerstelsel van Kaapstad tot George weer in werking is. Die stelsel dek groot dele van die Kaapse Skiereiland, Boland, Overberg en Suid-Kaap. Dit word gedoen deur die gebruik van 5 herhalers en verskeie skakel-radios. Die Wes-Kaap Herhaler Werkgroep wil graag spesiale dank betuig aan Michael, ZS1MJT; Neville, ZS1NEV en Jimmy, ZS1RB wat die nodige herstelwerk en installasies op die herhaler-terreine gedurende die vakansietydperk gaan doen het.
Jy word uitgenooi om die herhalers te benut wanneer jy kans het – die herhalers is vir alle amateurs beskikbaar om gebruik te word.
Om foute te rapporteer, en om meer inligting te bekom oor die herhalernetwerk, besoek gerus wcrwg.co.za.
NUUS UIT DIE SARL SE WEEKLIKSE NUUSBRIEF
Tydens die Januarie-raadsvergadering is besluit om ‘n spesiale aanbod op die SARL-lidmaatskapgelde aan te bied wat op Sondag 1 Februarie begin en op 30 Junie 2026 eindig. Jy kan teen halfprys by die SARL aansluit – gewone lid teen R280; ‘n senior lid teen R145; ‘n eggenoot-lid teen R100; ‘n studente-lid teen R60; ‘n kortgolfluisteraar teen R100; ‘n gesin-lidmaatskap teen R350 en ‘n senior gesin-lidmaatskap teen R200. Sien meer by mysarl.org.za/membership-rates. Gebruik die aanlyn aansoekvorm by mysarl.org.za/how-to-join en sluit aan vanaf Sondag 1 Februarie.
Bydraes vir Radio ZS en SARL-nuus
Lede word versoek om slegs [email protected] te gebruik wanneer hulle artikels vir publikasie in Radio ZS indien. Moet asseblief nie artikels via WhatsApp indien nie – ek moet dan daardie artikel van my selfoon na my rekenaar per e-pos kry. En dien jou artikel in MS Word of OpenOffice in, nie PDF nie.
Vir SARL Nuus, dien asseblief jou nuus item in teks-formaat in deur die nuus-inboks by mysarl.org.za/news-inbox of [email protected] te gebruik. Moenie jou nuus item in PDF-formaat indien nie. En indien moontlik, in Engels en Afrikaans – Prof Google kan jou help.
RAE-nuus
Donovan, ZS2DL, die RAE Bestuurder, berig dat alle assessore kennis moet neem dat jou hernuwings briewe die afgelope week per e-pos gestuur is. As jy ‘n assessor is en dit nog nie ontvang het nie, kontak my asseblief so gou as moontlik by [email protected] sodat die probleem opgelos kan word.
Net so is alle hernuwings briewe van die eksamensentrum ook per e-pos gestuur, en as jy die hoof-opsiener is en dit nog nie ontvang het nie, kontak my asseblief so gou as moontlik. Registrasievorms moet teen die sluitingsdatum van Saterdag 31 Januarie 2026 terugbesorg word. Indien jou hernuwings brief nie teen daardie tyd ontvang word nie, sal jou sentrum van die lys verwyder word, asook jou assessore. Geen uitsonderings nie!
Dan, vir die gretige bewertjies, is registrasie nou reeds op die SARL-webwerf beskikbaar gestel vir diegene wat die eksamen in Mei wil aflê. Gaan na mysarl.org.za/rae-radio-amateur-examination en klik dan op die “Click here to register”-knoppie in die middel van die skerm. MAAK SEKER dat u al die dokumente het wat benodig word vir die oplaai. Dit word sterk aanbeveel dat jy die instruksies vir registrasie wat ook op dieselfde bladsy verskaf word, lees en verstaan.
SARL-toekennings, raadsbenoemings en mosies
Die benoemings vorms vir die verskeie SARL-toekennings en -trofeë is beskikbaar op die SARL-webwerf, asook die vorms vir die indien van ‘n mosie of ‘n besprekingspunt by die 2026 AJV. Tot op hede het die sekretaris slegs dertien toekennings benoemings en twee mosies vir die AJV ontvang.
Ingevolge Reël 16.9 van die Grondwet en Reëls sal 50% van die Raadslede by die 2026 AJV bedank. ‘n Aftredende lid mag homself slegs vir herverkiesing aanbied indien hy voorgestel en gesekondeer word soos bepaal in hierdie reëls.
Die benoemings vorms vir die verskeie toekennings en om op die Raad te dien, is beskikbaar by mysarl.org.za/sarl-agm-2026. Voltooi asseblief die vorms en verkry alle vereiste handtekeninge op een dokument. Die sluitingsdatum vir toekennings benoemings, mosies, besprekingspunte en Raad benoemings is middernag op Saterdag, 31 Januarie 2026 en dit moet slegs gestuur word aan [email protected]. Geen laat inskrywings sal aanvaar word nie.
Die SARL se algemene jaarvergadering sal plaasvind by die Willows-oord en konferensiesentrum oor die naweek van 2 Mei 2026. Aangesien dit ‘n langnaweek is, word dit aangemoedig om jou verblyf so gou as moontlik te bespreek, aangesien die oord oor hierdie langnaweek besig sal wees. Gaan asseblief na thewillowspe.co.za en kies die besprekings-oortjie om te bespreek. ‘n Deposito van 50% word vereis om jou bespreking van verblyf te verseker.
ARISS amateur radio kontakte
Die Amateur Radio op die Internasionale Ruimtestasie (ARISS)-program soek formele en informele opvoedkundige instellings en organisasies, individueel of in samewerking, om ‘n amateur radio kontak met ‘n bemanningslid aan boord van die Internasionale Ruimtestasie (ISS) aan te bied. ARISS verwag dat die kontak tussen 1 Julie en 31 Desember 2026 gehou sal word. Bemannings skedulering en ISS-wentelbane sal die presiese kontak datums bepaal. Om hierdie radio kontak geleenthede te maksimeer, soek ARISS organisasies wat groot getalle deelnemers sal lok en die kontak in ‘n goed ontwikkelde onderwysplan sal integreer. Die sluitingsdatum vir die indien van ‘n voorstel is Vrydag 27 Februarie 2026. Voorstel-inligting en meer besonderhede soos verwagtinge, voorstel-riglyne en die voorstel-vorm kan gevind word by ariss.org.
Daar is nou slegs tien dae oor na die eerte Kraguur tegnologie-praatjie van 2026
Ons het jou verlede week ‘n voorsmakie gegee dat hierdie praatjie oor Digitale Slim Tegnologieë vir Amateur Radio sal handel, of in meer verkorte terme, D-STAR, ‘n digitale modus wat jou toelaat om met operateurs wêreldwyd te skakel deur beide digitale stem en data te gebruik.
Het dit jou nuuskierigheid geprikkel? Moet dit dan nie misloop nie! Merk jou kalenders vir 19:00 SAT op Woensdag 28 Januarie 2026 en sluit by ons aan vir die heel eerste Kraguur Tegnologie-Praatjie van die jaar! Ons bekende gas en D-Star-ghoeroe, Dick ZS6BUN, sal ons deur ‘n fassinerende Digitale D-STAR-inleiding lei. Of jy nou ‘n ervare operateur is of net begin, hierdie sessie belowe om jou belangstelling in hierdie slim digitale modus te prikkel.
Wil jy meer weet? Versprei die woord, stel ‘n herinnering en sluit by ons aan op Zoom vir ‘n aand van ontdekking en inspirasie. Die Zoom-vergadering-ID is 894 8750 5090 en die Zoom-wagwoord is 471730. Moenie hierdie geleentheid misloop nie — Kraguur Tegnologie-Praatjie om 19:00 SAT op 28 Januarie. Sien jou daar!
Pico Ballon Opdatering
Opwindende nuus — daar is ’n nuwe speler op die toneel. Andre, ZS1AFB het ZS1AFB-1 op 5 Januarie vanaf George gelanseer. Die vlug het op ’n baie hobbelrige noot begin: tydens die lansering het die ballon deur ’n boom beweeg, wat gelei het tot die verlies van ongeveer 50% van elke sonpaneel. Geen uitsendings is op die eerste dag ontvang nie, en die ergste is gevrees. Tot Andre se verrassing is daar egter die volgende oggend om 06:38 ’n sein gerapporteer deur V51RS en die ligging was merkwaardig genoeg Namibië.
Van daar het die ballon weswaarts oor die Atlantiese Oseaan beweeg, voordat dit ’n paar dae later ooswaarts gedraai het in die rigting van Australië, soos soveel ZA pico-ballonne geneig is om te doen. Teen Vrydag het dit uitstekende vordering gemaak en is tans net suid van Adelaide, waar dit teen ongeveer 200 km/h beweeg. Ten spyte van die 50% verlies aan sonpaneel-oppervlak, rapporteer dit steeds ’n gemiddelde spanning van 3,8 V.
Intussen het ZS6SRC-32 sy eerste omwenteling om die aarde op 11 Januarie 2026 voltooi en is tans net suid van Madagaskar. Dit het 39 733 km afgelê in 17 dae. ZS1ERZ-12 het sy 12de omwenteling om die planeet op 13 Januarie 2026 voltooi en is tans besig om Australië te kruis, net agter ZS1AFB-1, op sy 13de rondte. Tot op hede, soos op Vrydag, het dit 393 114 km afgelê oor 152 dae.
KOMPETISIE NUUS
Net ’n vinnige herinnering: Die Vakansie Jag het op 15 Januarie geëindig, wat beteken dat die Desember-vakansie nou amptelik verby is vir die meeste van ons slawe. Dis tyd om jou logboeke uit te sorteer en daardie bande en ruitblokke op te tel. Ons voorsien dat hierdie vakansie-aktiwiteit vinnig ’n baie gewilde gebeurtenis gaan word, so hou aan die einde van 2026 gerus uit vir promosie van die volgende rondte.
Hierdie week is daar ook .ICS (“iCal”) elektroniese kalender leërs bygevoeg op die Kompetisie-bronne-afdeling van die MySARL-webwerf. Laai eenvoudig die lêer af na jou rekenaar en voer dit in by jou Google kalender, dan word SARL-kompetisie-datums en -tye outomaties ingevul.
Hierdie keer is daar twee ICS-lêers – een vir die kompetisie-datums en die tweede een is ‘n vriendelike herinnering aan die sluitingsdatums vir jou logstate. Die lêers werk ook met Outlook en meeste ander kalender-programme. Probeer dit gerus uit!
Volgende week deel ons ’n paar handige wenke vir by hou van elektroniese logboeke en sigblad-voorbereiding — vinnig en maklik, net soos om “CQ” te roep.
‘n Laaste gedagte – is jou Klub kompetisiespan al gemotiveerd en aan die gang vir hierdie jaar? In 2026 is daar twee 20-meterband klub kompetisies. Binne-inligting wys dat die Kaapse klubs en SOTA-operateurs die beste kans het om die binnebaan te hou om eerste oor die wenstreep te kom. Tyd sal leer, so hou jou oor op 20m vanjaar!
HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING
Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat lae tot gematigde sonaktiwiteitsvlakke vir die week verwag word. Tans is daar 5 sonvlekgroepe met eenvoudige tot effens gevorderde magnetiese samestellings sigbaar. Daar is ‘n hoe” waarskynlikheid vir die voorkoms van C-klas, en ‘n lae tot gematigde waarskynlikheid vir M-klas sonfakkels. Diegene wat hulle eie frekwensie-voorspellings wil doen, kan ‘n verwagte effektiewe sonvlektelling van 49 vir die week gebruik. Radio amateurs kan vroeg oggend en laat middag DX openinge op die 15 tot 30 m bande verwag. Besoek gerus die webtuiste spaceweather.sansa.org.za vir meer inligting.
DAGBOEK VAN GEBEURE
- 18 Januarie – die Noord-Amerikaanse ESB QSO-partytjie
- 21 Januarie – die Eta Cancrids Meteoorreën
- 24 Januarie – die Internasionale Onderwys Dag en die SARL Saterdag 40 m Klub kompetisie
- 24 en 25 Januarie – die Sasolburg ARK ondersteun die FastOne Fietswedren
- 30 Januarie – die sluitingsdatum vir ‘n kort opsomming van die voorgestelde aanbieding vir die SARL-simposium
- 31 Januarie – die sluitingsdatum vir SARL-jaarvergadering mosies, SARL-toekennings benoemings en Raad benoemings
- 1 Februarie – die Antieke Radio Vereniging se GG Aktiwiteitsdag
- 7 Februarie – die Oos-Rand Kattebak verkoping en SARL Hamnet Wes-Kaap ondersteun die 99er-fietstoer in Durbanville
- 8 Februarie – die Hamsat SA ZS-QO-100 QSO Partytjie.
OM MEE AF TE SLUIT
Roep asseblief in op die frekwensie waar jy geluister het. Ons nooi jou ook uit om interessanthede te deel na die bulletin, en om terugvoering te gee rakende die bulletin se formaat en idees. Ons gee gou eers net ‘n redelike kans vir Echolink stasies om in te roep, en vra dat ander stasies net ‘n oomblik geduld toepas voor hulle inroep.
Namens die redaksie-span, groete tot ‘n volgende keer, en ‘n lieflike week.
