Bulletin: 25 Januarie 2026
Die BARK-bulletin word elke Sondag uitgesaai op die 145.700 herhaler. Hierdie week is dit saamgestel en gelees deur Marius ZS1ML, en dit is ook beskikbaar op die klub se Echolink-nodus ZS0BAK-R.
Die 40 m herleiding word hierdie week deur Andre ZS1F behartig. Die herleiding na die skakelstelsel wat die Suid-Kaap bedien, word voorlopig deur Rassie Erasmus ZS1YT behartig, totdat ons die stelsel kan outomatiseer sodat dit die bulletin wat op die 145.700 herhaler in Kaapstad uitgesaai word, self kan opvang en versprei.
In hierdie bulletin gesels ons oor:
- BARK klub- en ledenuus
- Wes-Kaapse herhalerwerkgroep-opdaterings
- SARL se weeklikse nuusbulletin in Afrikaans
- Ons maak ’n draai by die kompetisiedagboek
BARK KLUB- EN LEDENUUS
Lief en leed
Geen lief- of leednuus is gedurende die afgelope tydperk vanaf enige lede ontvang nie.
BARK-verjaarsdae
Die komende week verjaar die volgende BARK lede.
- 26 Januarie – John ZS1DOS
- 26 Januarie – Andre ZS1F
Ons wens hulle ‘n baie gelukkige verjaarsdag en hoop dat hulle erg gaan bederf word op die dag. Mag dit ook vir jou `n wonderlike jaar wees wat voorle wat gevul sal weesmet liefde, geluk en voorspoed.
BARK-nuus
Baie dankie aan die stasies wat getrou die bulletin lees en herlei, en ook ná die bulletin inroep. Weet jy van iets interessant wat jy dink aanklank sal vind by die res van die klublede? Deel gerus daardie storie, stukkie inligting of ander interessanthede met ons.
Die Redaksiespan versoek enige nuus vir insluiting op die weeklikse bulletins. Nuus moet op die laatste Saterdagmiddag voor 14:00 ingestuur word na [email protected] — alle nuusbrokkies is welkom.
Vorige BARK-bulletins, insluitend hierdie een, is op die BARK Facebook-blad te vind. Hierdie bulletin sal direk ná die uitsending beskikbaar wees.
BARK Digitaal WhatsApp-groep
BARK Digitaal is ’n inisiatief om digitale modusse te bevorder waar lede mekaar kan ondersteun in hierdie afdeling van die stokperdjie. Ons as BARK sien die behoefte in hierdie veld, asook die gebrek aan genoegsame ondersteuning — daarom hierdie inisiatief.
Lede word gevra om hul ervaring en eksperimente met digitale modusse soos DMR, Meshtastic, APRS, FT8, VARA, Winlink en nog vele meer, op die BARK Digitale WhatsApp-groep te deel.
BARK DMR-net
Donderdag, 15 Januarie, het die eerste BARK DMR-net plaasgevind, en 10 stasies het deelgeneem. Talkgroup 6551 (Wes-Kaap) is gebruik, waar sommige lede ingeskakel het op die Noon Gun-herhaler en ander via ’n hotspot.
Nuttige kennis is uitgeruil oor operasionele toestande, weerstoestande en tegniese inligting. Maak ’n knoop in jou oor om saam met ons in te skakel volgende Donderdagaand om 19:30 SAST op talkgroup 6551 (Wes-Kaap). Verdere kennisgewing oor hierdie net sal per WhatsApp gedeel word. Kom sluit aan — dit is lekker en leersaam!
Hulp benodig
HAMNET Wes-Kaap benodig amateurvrywilligers om te help by die volgende drie geleenthede:
- 7 Februarie: 99er Fietstoer (Durbanville–Malmesbury)
Daar is reeds heelwat radioamateurs wat hul tyd en kennis beskikbaar gestel het, maar ons benodig steeds ’n paar ekstra persone. Indien jy enige vrae het of belangstel om jou beskikbaar te stel, kontak gerus vir Dave Reece ZS1DFR by 083 270 6843. - 14 Februarie: CPMCC/CCMCC Porterville-tydren (buite Porterville)
Die amateurradio-span het reeds net genoeg vrywilligers om as radiobeamptes op die baan te dien, en om die belangrikste resiesbeamptes te vergesel vir koördinering en kommunikasie. Ons kan egter doen met nog ’n paar hande, en die groep sal baat as ons ’n groter poel amateurs het om uit te trek by verdere tydrenne. Indien jy vrae het of wil help, kontak Johann Marais ZS1JM by 082 771 1880. - 28 Februarie: Killarney Blinde Navigators-tydren (Killarney Resiesbaan en omliggende areas)
Hierdie geleentheid word deur die Seepunt Lions georganiseer en bied ’n besondere geleentheid vir blinde persone om die dag op die pad te geniet. Histories het radioamateurs slegs ’n paar kritieke kommunikasiefunksies verrig, maar ons wil graag die betrokkenheid uitbrei om meer effektief met koördinering te help. Daarom het ons meer amateurs nodig. Kontak Jannie Kirsten ZS1JFK by 084 225 1629
HAMNET-NUUS
Ons hoor van Dave Reece, ZS1DFR, dat daar tans relatief min nuus is in HAMNET-bulletins oor amateurradio-noodkommunikasie in Suid-Afrika. Volgens Dave is dit omdat daar min kommunikasie-verwante berigte is oor rampe of groot geleenthede in ons land. Hy sê hy deursoek weekliks nuusbronne, en vul daarom die bulletin soms aan met wetenskap- en ruimteberigte—totdat meer HAMNET-verslae uit afdelings inkom.
Dave Reece sê ons hoor verder van Riaan Greeff, ZS4PR, HAMNET Afdelingsdirekteur in die Vrystaat, wat ’n sterk oproep doen dat radioamateurs beter plaaslik moet skakel en gereed moet wees vir noodgevalle. Riaan nooi SARL-lede en nuwe amateurs om met hom kontak te maak. Hy sê 2026 gaan fokus op opleiding, radiogereedheid en beter integrasie met ander HAMNET-groepe. Tans is daar net oor die 20 aktiewe HAMNET-lede in die Vrystaat, met die meerderheid in die Vaalstreek. Hy wys ook daarop dat baie amateurs wel by ander veiligheids- en beskermingsgroepe betrokke is, maar nie by HAMNET nie.
Dave Reece sê ons hoor ook van Andrew Gray, ZS2G, HAMNET Afdelingsdirekteur in die Oos-Kaap, oor ’n groot kragonderbreking in die Nelson Mandelabaai-gebied wat moontlik tot twee weke kan duur. Twee torings in die Bethelsdorp–Greenbushes 132 kV kraglyn het geval—blykbaar weens vandalisme saam met swak weer. Andrew waarsku dat waterpompstasies sonder krag ook kan uitval, en dat ’n lang onderbreking die gemeenskap, sowel as handel en nywerheid, ernstig kan raak.
HERHALERNUUS
Dit is aangenaam om aan te kondig dat die Wes-Kaap herhalerstelsel van Kaapstad tot George weer in werking is. Die stelsel dek groot dele van die Kaapse Skiereiland, Boland, Overberg en Suid-Kaap. Dit word moontlik gemaak deur die gebruik van vyf herhalers en verskeie skakel-radio’s.
Die Wes-Kaap Herhalerwerkgroep wil graag spesiale dank betuig aan Michael ZS1MJT, Neville ZS1NEV en Jimmy ZS1RB, wat die nodige herstelwerk en installasies op die herhalerterreine gedurende die vakansietydperk gedoen het.
Jy word uitgenooi om die herhalers te benut wanneer jy kans het — die herhalers is vir alle amateurs beskikbaar.
Om foute te rapporteer en meer inligting te bekom oor die herhalernetwerk, besoek gerus: wcrwg.co.za
NUUS UIT DIE SARL SE WEEKLIKSE NUUSBRIEF
SARL-TOEKENNINGS EN TROFEË
Die SARL-sekretaris het vyf-en-dertig name gelys teenoor verskeie toekennings en trofeë vir 2025. Die prestasies van 2025 sal beloon word tydens die 2026 SARL-toekenningsdinee op 2 Mei.
Nominasies word benodig vir die:
- Barney Joel-trofee, en
- Radio ZS 4-meter-wisseltrofee.
Die Barney Joel-trofee word toegeken aan ’n SARL-lid wat gedurende die jaar ’n buitengewoon aktiewe HF-mobiele operateur was. Dit erken toewyding aan HF-mobiele kommunikasie en die bevordering van HF-toerusting, antennas en bedryf. Dit kan vanuit ’n voertuig wees, of ander korttermyn selfstandige veldbedrywighede soos SOTA, HOTA, POTA of soortgelyke aktiwiteite insluit.
Die Radio ZS 4-meter-wisseltrofee word toegeken aan die SARL-lid wat gedurende die jaar die langste afstand op die 4-meterband (70 MHz) afgelê het. Die SARL Sertifikaat van Erkenning is daar om ’n gelisensieerde amateur of ’n eggenoot/vennoot in jou klub te vereer vir uitstekende werk—byvoorbeeld ’n klub-ondersteuner of iemand in die gemeenskap wat iets besonders vir jou klub doen.
Die nominasievorms vir die verskeie toekennings, die vorm vir mosies en besprekingspunte, en die nominasie om op die Raad te dien, is beskikbaar by: https://mysarl.org.za/sarl-agm-2026/
Voltooi asseblief die vorms en kry al die vereiste handtekeninge op een dokument. Moet dit nie as ’n JPG-lêer indien nie — slegs MS Word of PDF.
Die sluitingsdatum vir toekennings, mosies, besprekingspunte en Raad-nominasies is middernag op Saterdag 31 Januarie 2026, en dit moet slegs gestuur word aan [email protected]. Geen laat inskrywings sal aanvaar word nie.
Sien jou klub in Radio ZS
Radio ZS wil amateurradioklubs vereer en sal klubfoto’s in elke 2026-uitgawe plaas. As jou klub ’n kans wil hê om in Radio ZS uitgelig te word, doen die volgende:
- Kry jou klublede bymekaar sodat almal netjies lyk — klubhemp of gholfhemp werk goed.
- Oorweeg dit om met jou klub se teken of banier te poseer.
- Neem hoë-resolusie beelde. As jy foto’s met ’n foon neem, stel dit op hoogste gehalte.
- Neem foto’s in horisontale en vertikale oriëntasie, en moenie die foto’s sny of wysig nie.
- Tik die name en roepseine van al die amateurs op die foto, die naam en roepsein (indien van toepassing) van die fotograaf, en die volle naam en roepsein van die klub.
Stuur die inligting, saam met een vertikale en een horisontale foto, na: [email protected]. Lees maandeliks Radio ZS in 2026 om te sien of jou klub al in die kollig was.
SARL het sy menings by openbare verhoor oor die Nasionale Frekwensieplan aangebied
Drie verteenwoordigers van die SARL het die OKOSA Openbare Verhoor oor die tweede konsep van die 2025 Nasionale Radiofrekwensieplan bygewoon. Die SARL-aanbieding is ontwikkel deur die SARL Wetenskap- en Tegnologie Werkgroep. Drie van sy lede—Guy Eales ZS6GUY, Brian Jacobs ZS6YZ en Hans van de Groenendaal ZS6AKV—het die verhoor op Donderdag 15 Januarie 2026 bygewoon.
In April verlede jaar het die SARL insette gelewer tot konsep een, wat in konsep twee ingesluit is. Die aanbieding het gefokus op hoe tegnologiese ontwikkelings ’n impak op amateurradio gehad het, en hoe radioamateurs hierdie ontwikkelings omhels.
Die SARL het gesê dat soos tegnologie ontwikkel het, so ook die amateurradiodiens, soos dit in die ITU-regulasies gedefinieer word, met vandag ’n selfs groter klem op tegniese ondersoek soos uiteengesit in ITU-regulasie 1.56. Die Liga het bygevoeg dat dit ’n vars kyk vereis na sommige maksimum kragperke op verskeie frekwensiebande, soos gedelegeer in ITU-regulasie 25.7 paragraaf 4. Voorstelle sluit ’n kyk in na maksimum kragbeperkings op die 135 kHz, 472 kHz en 1 810 kHz bande.
Die aanbieding het ook gehandel oor die gebruik van die 70 cm-band deur ongelisensieerde gebruikers en vrylik beskikbare toerusting. Alhoewel dit nie ’n frekwensiekwessie is nie, het die SARL gesê dit is verstandig om dit weer uit te wys, aangesien OKOSA verantwoordelik is vir die beskerming van gelisensieerde gebruikers.
Die SARL het ook versoek dat Bylae I, die tabel van Amateurfrekwensies wat laas in 2015 opgedateer is, op datum gebring word. Ná vrae en bespreking is die SARL versoek om ’n opgedateerde Bylae I aan OKOSA voor te lê vir hersiening. Die SARL het die OKOSA-span gekomplimenteer met die werk aan die tweede konsep, en het 7 dae om ’n opgedateerde Bylae I-voorstel te beraadslaag.
’n Oproep vir tegniese manuskripte
Radio ZS nooi voorleggings van tegniese manuskripte van gelisensieerde amateurradio-operateurs uit vir komende uitgawes wat fokus op SARL Nasionale Velddag-bedrywighede. Voorleggings moet opvoedkundig wees, met ’n sterk “hoe-om”-komponent, en mede-amateurs help om hul opstellings, strategieë en tegniese kennis te verbeter.
Onderwerpe kan insluit: krag, antennas, logging, modusse, en integrasie van nuwe tegnologieë soos SDR, mesh-netwerke en sonkrag in veldscenario’s, asook die invloed van POTA en SOTA op velddag-opstellings.
Lengte: 1 000–1 800 woorde, plus hoë-resolusie beelde met onderskrifte en fotokrediet (naam en roepsein). Vir die Februarie Radio ZS: stuur dit teen 25 Januarie 2026 in gewone teks, OpenOffice of MS Word-dokument na [email protected] (nie WhatsApp nie).
Pico-ballon nuus
Hier is ’n kort opdatering oor Suid-Afrika se drie Pico-ballonne, wat almal tans in die Stille Oseaan-streek vlieg:
- ZS1AFB-1, gelanseer op 5 Januarie, is naby die voltooiing van sy eerste omseiling van die aardbol. Dit is tans oor Suid-Amerika, nadat dit ongeveer 40 000 km in 17 dae afgelê het, en vlieg tans op ongeveer 12,32 km hoogte met ’n grondspoed van sowat 105 km/h.
- ZS6SRC-32 het, ná 25 dae in vlug, ongeveer 55 000 km afgelê en is nou in sy tweede rondte om die wêreld, op ongeveer 12,34 km hoogte met ’n grondspoed van ongeveer 110 km/h.
- ZS1ERZ-12 is tans in sy 13de omseiling van die planeet. Oor 160 dae het dit ongeveer 407 000 km afgelê en is steeds in vlug.
KLUBNUUS
Die Kaapstad Amateurradiosentrum bied hul jaarlikse vlooimark ’n week vroeër aan, op 28 Februarie 2026, by die Belvedere Gemeenskapsentrum langs Laidlawlaan in Rondebosch. Die hekke maak om 10:30 oop.
Verkopers betaal slegs R15, wat ’n inskrywing in ’n gelukkige trekking insluit. Boerie-rolletjies en yskoue verversings sal te koop wees. Almal is welkom — dit is ’n uitstekende geleentheid om met ou vriende by te praat. Sien jou daar.
Vir meer inligting: [email protected]
KOMPETISIENUUS
Februarie is kompetisiemaand! Dit is tyd om jou radio se opwarm-roetines reg te kry. Die Antieke Draadloos Vereniging se GG Aktiwiteitsdag is op Sondag 1 Februarie — is jy gereed om die propagasie te ry en Morse-kode kontakte te maak?
Die doel van die GG Aktiwiteitsdag is om met soveel moontlik amateurs op die 20 m, 40 m en 80 m bande kontak te maak. Raadpleeg bladsy 65 van die 2026 Kompetisiehandleiding vir die besonderhede.
Die uitslae van die PEARS BHF/UHF-kompetisie is vrygestel. Weereens het vermenigvuldigers hul waarde bewys: deur addisionele ruitblokke te gebruik, vermenigvuldig jy jou telling, waar nog ’n kontak eenvoudig net by jou telling voeg.
- 1ste: Kaapse Radiogroep, ZS1CRG — 55 173 punte
- 2de: Dieter Hoffmann, ZS1DWH/R — 9 866 punte (wenner van die Rover-kategorie)
- 3de: Jan Lamprecht, ZS1LAM — 9 088 punte
Geen logstate is ontvang vir Digitaal of die FM-kategorie nie. PEARS bedank almal wat deelgeneem en logstate ingestuur het. Baie geluk aan die Kaapse Radiogroep met die algehele oorwinning.
HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING
Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat lae tot gematigde sonaktiwiteitsvlakke vir die week verwag word. Tans is daar 10 sonvlekgroepe met eenvoudige tot gevorderde magnetiese samestellings sigbaar.
Daar is ’n hoë waarskynlikheid vir C-klas sonfakkels, en ’n gematigde waarskynlikheid vir M-klas sonfakkels. Vir eie voorspellings kan amateurs ’n verwagte effektiewe sonvlektelling van 124 vir die week gebruik.
Radioamateurs kan vroegoggend en laatmiddag goeie DX-openinge op die 10 m tot 30 m bande verwag. Besoek gerus: spaceweather.sansa.org.za
DAGBOEK VAN GEBEURE (VOLGENDE PAAR WEKE)
- Vandag – Sasolburg ARK ondersteun die FastOne Fietswedren
- 27 Januarie – sluitingsdatum vir artikels vir Radio ZS
- 30 Januarie – sluitingsdatum vir ’n kort opsomming van die voorgestelde aanbieding vir die SARL-simposium
- 31 Januarie – sluitingsdatum vir SARL-jaarvergadering mosies, SARL-toekenningsbenoemings en Raadbenoemings
- 1 Februarie – Antieke Draadloos Vereniging se GG Aktiwiteitsdag
- 7 Februarie – Oos-Rand kattebakverkoping én SARL HAMNET Wes-Kaap ondersteun die 99er-fietstoer in Durbanville
- 8 Februarie – Hamsat SA ZS-QO-100 QSO-partytjie
Dan het ons van Dennis Green, ZS4BS die volgende brief vanaf die SARL gekry:
Goeiemiddag,
Deel asseblief hierdie op jou Klub se WhatsApp-groep [Ek het sowat 1 600 e-posadresse vir hierdie poslys gekry, slegs 520 lede het die uitnodiging aanvaar.]
Die SARL Kompetisie Werkgroep het my in kennis gestel dat die ZS100SARL roepsein een (1) ZS5 QSO bevestiging benodig om aansoek te doen vir ‘n Worked All ZS toekenning.
ZS100SARL benodig twee (2) bevestigde QSO’s om aansoek te doen vir ‘n Gemengde DXCC Toekenning.
Daar is genoeg QSO’s wat steeds bevestig kan word om beide prestasies te bereik. Kyk gerus en bevestig jou QSO’s met ZS100SARL. Ons wil graag aankondig dat ZS100SARL die WAZS en DXCC behaal het.
Die datum vir die indien van jou Eeufees QSO Partytjie logstaat is Saterdag 31 Desember 2026 – die Kompetisie Werkgroep sal nie die deur toeslaan vir laat inskrywings nie – maar moenie te lank wag nie!
Groete,
Dennis Green, ZS4BS, SARL Sekretaris
VOOR ONS AFSLUIT; NOG ‘n STUKKIE BARK-NUUS EN INLIGTING
Die Voorsitter, Johan Brink ZS1JAB, het verduidelik dat die week se bulletin voortaan op die BARK-webblad gelaai sal word terwyl die webwerf opgedateer word. Die adres is: https://bark.org.za/bulletins
Datums vir BARK-klubvergaderings 2026
Die datums vir klubvergaderings is vasgemaak vir die jaar, as volg:
- 14 Maart 2026
- 20 Junie 2026
- 19 September 2026
- 5 Desember 2026
Die venues word tans uitgesorteer. Ons besin ook oor uitreik-velddae en ’n wegbreeknaweek — datums en gepaste venues sal later gesirkuleer word. By die 14 Maart-geleentheid beoog ons om ’n veldstasie op te rig vir die klubkompetisie. Afhangend van die venue, mag ons dit selfs ’n deurnag maak vir dié wat wil, maar dit is nog in die beplanningsfase.
OM MEE AF TE SLUIT
Dankie aan almal wat ingeluister het saam met ons vanoggend, dit was lekker om julle vanoggend hier by ons te verwelkom.
Die volgende stap is om jou te vra om in te roep op die frekwensie waar jy geluister het. Ons nooi jou uit om interessanthede te deel ná die bulletin, en om terugvoering te gee oor die bulletin se formaat en idees.
Nou gee ons eers ’n redelike kans vir Echolink-stasies om in te roep, en vra dat ander stasies net bystaan tot ons die volgende groep met handradios en basis-stasies vra dat julle ook inroep.
Namens die hele redaksiespan wat agter die skerms woelig is om vir jou nuusgebeure te bring — groete tot volgende keer, en ’n heerlike week vir jou.
73.
